Inspirasie: Seun maak hart oop ná vriend se dood
Updated: Jul 8, 2022
Ivan Roodbol (19) Foto: verskaf
“Ek is op soek na nuwe, groot avonture. Hierdie is ‘n honderd persent wat ek eendag wil doen,”sê Ivan. “Nou moet ek net bepaal hóé ek dit gaan doen.”
Nadat Ivan Roodbol (19) sy beste vriend skielik aan breinkanker verloor het, wou hy ’n verskil in ander se lewens maak. Ivan lê nou marathonwedrenne in die Tsitsikamamaberge af om geld in te samel vir kinders met terminale siektes.
Ivan het verlede jaar, ’n week voor sy 18de verjaarsdag en sowat vyf maande nadat sy vriend oorlede is, sy eerste solo-ultra-marathon gehardloop om geld in te samel ter herinnering aan sy oorlede vriend, Luan Matthee. Vanjaar, kort voor sy 19de verjaarsdag, het hy sy tweede solo-ultra-marathon voltooi – mét ’n pophuis op sy rug. Met die pophuis wou Ivan mense bewus maak dat dit nie net ouer mense is wat siek word nie, maar ook tieners.
Ivan het in die laaste marathon ’n totale afstand van 80km binne 26 uur afgelê en ’n reuse-bedrag van R26 000 ingesamel. Hy het hierdie fondse aan die Overstrand-hospies op Hermanus geskenk. Dié organisasie versorg pasiënte wat terminaal siek is, soos Ivan se vriend Luan.
“Ek is op soek na nuwe, groot avonture. Hierdie is ‘n honderd persent wat ek eendag wil doen,”sê Ivan. “Nou moet ek net bepaal hóé ek dit gaan doen.”
Esmé Potgieter, die pasiëntesorgbestuurder van die Overstrand-hospies, sê Ivan het hulle sowat vyf maande tevore genader oor dié inisiatief. Sy sê hulle was in verwondering dat so ’n jong man hulle genader het. “Dit is gewoonlik mense van dertig jaar of ouer wat ons nader. Dit is wonderlik dat jong mense nou begin betrokke raak by sulke inisiatiewe. Ons het baie respek vir Ivan,” sê sy.
Ivan se ma, Francie, sê mense aanvaar dikwels hul gesondheid as vanselfsprekend.
“Ek dink die afgelope ruk het Ivan geleer dat ’n mens jou gesondheid moet koester. Die een dag het jy nog drome om berge te versit en die volgende dag droom jy van nog net één Kersfees saam met jou familie.” Ivan beplan om in die volgende jaar sy derde marathon aan te pak.
Comments