top of page
2021010486

Bewusmaking: Junie maand is plastiekvrye maand


Plastiek het ʼn vernietigende impak op die omgewing aangesien dit honderde of selfs duisende jare kan neem om af te breek. Plastiekvrye Julie is ’n beweging waaraan miljoene mense oor die wêreld heen elke jaar deelneem. Hier is vir jou meer agtergrond oor plastiekbesoedeling en 'n paar oplossings.



Daar word geskat dat tot 79% van plastiek wat die afgelope 70 jaar vervaardig is, weggegooi is en dus op vullisterreine of in die omgewing beland het. Plastiek ontbind nie en laat gifstowwe vry wanneer dit gebrand word.


Plastiek eindig in die grond, rivier of die see op. Wanneer dit in water beland, hou dit nie net gevare in vir die diere wat in die water lewe nie maar dit eindig ook weer op in die water wat deur mense gedrink word. Wetenskaplikes reken daar gaan binnekort meer plastiek as visse in die see wees.


Op stortingsterreine begin plastiek chemikalieë lek en eindig dit in grondwater op. Mense kry weekliks duisende piepklein stukkies plastiek in. Die uitwerking daarvan op mense se gesondheid is nog nie heeltemal duidelik nie maar daar word vermoed dat dit baie ernstiger is as wat tans gedink word. Plastiek word ook in klein stukkies afgebreek en word deur diere gevreet.


Plastieksakke is een van die grootste vorms van plastiek wat die omgewingbesoedel. Plastiek beland ook in dreine wat tot gevolg het dat dit verstop word en selfs tot kitsvloede kan lei.




Is daar oplossings vir plastiekbesoedeling?


Almal kan help om die probleem te probeer oplos deur hul plastiekafval te verminder.

Daar is altyd alternatiewe vir plastieksakke en die soektog na meer alternatiewe duur voort. Papiersakke is ‘n moontlike opsie maar dit het ook ʼn invloed op die omgewing.

Daar word reeds gebruik gemaak van plastieksakke wat meer as een keer gebruik kan word. Dit is sterker en duursamer en kan langer gebruik word. Daar is ook die opsie van herbruikbare materiaalsakke wat nog langer hou.


Mens kan byvoorbeeld ook van ʼn herbruikbare bottel gebruik om water te drink in plaas daarvan om elke keer water te drink uit bottels wat weggegooi word. Verbruikers kan ook kies om plastiekkoppies te vermy deur hul eie beker te verskaf wanneer hulle byvoorbeeld ʼn wegneemkoffie koop.


Plastiekstrooitjies dra ook by tot besoedeling. Daar word ook reeds in die verband na ander moontlik alternatiewe soos kartonstrooitjies gekyk. Mense kan ook glas- of staalstrooitjies koop om te gebruik.


Daar is deesdae ook baie alternatiewe vir plastiekverpakking. Verbruikers kan dus probeer om eerder produkte te koop wat nie in plastiek verpak word nie maar in byvoorbeeld karton.

5 views

Comments


bottom of page